Taalbeleidshersiening en die ontplanning van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat

  • Theodorus du Plessis University of the Free State
Keywords: taalbeleid, taalbeleidshersiening, taalbeplanning, taalherplanning, taalontplanning

Abstract

Taalontplanning is ’n onderwerp wat nie dikwels in die taalbeplanningsliteratuur voorkom nie. Van die enkele studies op die terrein ondersoek weliswaar die reëlmatige ‘ontdoening’ van vorige ‘doenings’-aksies, maar dié studies konsentreer op taalkorpusbeplanning. Die skynbare verskraling van Afrikaans se posisie as hoëronderwystaal van Suid-Afrika laat die vraag ontstaan of ontdoeningsaksies met betrekking tot taalstatus- en taalfunksiebeplanning ook as taalontplanning beskou kan word. Omdat die onderhawige geval met ingrypende taalbeleidshersienings verbind kan word, ondersoek hierdie studie die verband tussen beleidshersiening – soms die agilleshiel van universiteite genoem – en taalontplanning. Die kollig val op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se uitfasering van Afrikaans as hooftaal sedert 2015. Daar word in die aangebode studie gesteun op ’n analise van gedokumenteerde bewyse van taalbeleidshersiening aan die UV sedert die dringende noodsaak daaraan in 2008 deur twee nasionaal-gegenereerde eksterne verslae uitgewys is. Na aanleiding van voorskrifte omtrent beleidshersiening vervat in die UV se 2005-metabeleid en voorskrifte omtrent spesifiek taalbeleidswysigings vervat in die 2003- institusionele taalbeleid word uitstaande momente in taalbeleidshersiening aan hierdie instelling saaklik behandel. Die studie bevind dat beleidskontinuïteit ’n sleutelbegrip is om te kan onderskei tussen twee duidelike fases in taalbeleidshersiening aan die UV, ’n post-2008 tydperk waarin sodanige kontinuïteit nagestreef word, ofskoon relatief ingrypende wysigings desondanks deurgevoer word, teenoor die tydperk vanaf 2015 waarin taalbeleidskontinuïteit doelbewus verbreek word. Dit blyk dat die verskyning van ’n interne transformasieverslag teen die einde van 2014 ’n sleutelrol gespeel het om hierdie koerswysiging te bewerkstellig en daarmee die weg help voorberei het vir die georkestreerde stigmatisering van parallelmediumonderrig (en deur assosiasie daarmee ook Afrikaans). So kon ’n intellektuele klimaat geskep word om met ontdoeningsaksies op gang te kon kom waardeur die ontplanning van Afrikaans aan die UV taalbeleidsmatig geïnstitusionaliseer kon word.
Published
2017-12-11
How to Cite
du Plessis, T. (2017). Taalbeleidshersiening en die ontplanning van Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 53, 78-96. https://doi.org/10.5842/53-0-748