Die wisselwerking tussen teorie en praktyk in die ontwerp van ’n kurrikulum met transtaling as kernkomponent

  • Adelia Carstens Eenheid vir Akademiese Geletterdheid, Universiteit van Pretoria
Keywords: akademiese geletterdheid, konstruksie-ekonomie, toegepaste linguistiek, transtaling, tweetaligheid

Abstract

In hierdie artikel word die praktyk van transtaling ondersoek binne die konteks van ’n akademiesegeletterdheidsmodule wat in 2016 in Engels aangebied is vir Afrikaanssprekende eerstejaarstudente in Konstruksie-ekonomie. Die navorsing is gedoen met die oog op ’n beskrywing van die sistematiek van die praktyke wat gevolg is, en die moontlike waarde van ’n beskrywende model vir toekomstige kurrikulumontwikkeling. Eerstens word ’n oorsig gegee oor linguistiese en toegepaste linguistiese teorieë wat die gebruik van die eerste taal in die tweedetaalklas ondersteun. Dit word gevolg deur ’n bespreking van die onderskeid tussen leerdergesentreerde en dosentgesentreerde transtaling, wat as vertrekpunt dien vir die ponering van ’n pedagogiese raamwerk vir transtaling. Die empiriese gedeelte van die artikel beskryf ’n gevallestudie van beperkte omvang, wat gerig was op die transtalingsvookeure en -praktyke van eerstejaarstudente in Konstruksie-ekonomie. Die data, wat deur middel van voor- en na-intervensie-vraelyste ingesamel is, is sowel kwantitatief as kwalitatief ontleed. Dit blyk dat die studente reeds voor die aanvang van die module positief ingestel was teenoor die gebruik van sistematiese transtaling, en dat hulle houding tydens die intervensie positief gebly het. Gedurende die intervensie is dosentgesentreerde transtaling gebruik vir funksies soos klasbestuur, verduideliking van grammatika en woordbetekenis, sowel as vir kommunikasie met individuele studente. Leerdergesentreerde transtaling het veral plaasgevind gedurende interpersoonlike kommunikasie met medestudente en die dosent, asook beplanning en onderhandeling in kleingroepe. Die ontleding van die data het twee aspekte van die pedagogiek van transtaling uitgelig wat nog nie voldoende aandag in die literatuur gekry het nie, naamlik die verskil en die onderlinge verband tussen transtaling en vertaling; en die soms eensydige fokus op transtaling in die rigting van die T1, teenoor die inverse: transtaling in die rigting van die T2. Op grond van die navorsingsbevindinge word ’n kurrikulummodel voorgestel wat as basis kan dien vir die beplanning van transtaling in kontekste waar nuwe vakkonsepte tesame met ’n tweede taal as akademiese taal aangeleer word. Hierdeur word die toegepaste linguistiek se fokus op sowel teorie as empirie in die ontwerp van oplossings vir praktiese taalprobleme beklemtoon.
Published
2017-12-11
How to Cite
Carstens, A. (2017). Die wisselwerking tussen teorie en praktyk in die ontwerp van ’n kurrikulum met transtaling as kernkomponent. Stellenbosch Papers in Linguistics Plus, 53, 25-39. https://doi.org/10.5842/53-0-732